Trans Oranje Drukkers oor tydsgrense heen
Trans Oranje Drukkers se ontstaansgeskiedenis dateer terug na 1969 met drukmasjiene wat met 'n loodstelsel gewerk het en slegs twee litografiese masjiene. Die drukproses was tydrowend: 'n Enkele bestelling brandstofboekies het maklik ses maande van een drukmasjien se produksietyd in beslag geneem!
In 1984 het die drukkery na die huidige perseel in Soutpanstraat verhuis en twee jaar later is die kommersiële komponent van die plaaslike koerant, die Gemsbok, by die drukkery geïnkorporeer. Met verloop van tyd het vooruitgang opgradering van die gebou soos die setkamer, ontwerpateljee en raadsaal genoodsaak. Uitbreiding van die produktereeks in die laat tagtigerjare sluit etikette in, asook die investering in aaneenlopende druktoerusting in 1996. Laasgenoemde het die ontstaan van die produksie-eenheid, Thyron Besigheidsvorms, tot gevolg gehad.
Vervloë jare se tydsame tik-, knip-en-plakproses, films "skiet" en loodlettertjies is vervang deur hoëvlaktegnologie en produksie-effektiwiteit. Vandag is Trans Oranje Drukkers een van die grootste drukkerye in die Noord-Kaap wat 'n diverse spesialisdiens bied: volkleurdrukwerk, selfklewende etikette en aaneenlopende drukwerk - al jou drukkersbehoeftes onder een dak!
BEMAGTIGING
Trans Oranje Drukkers en Thyron Besigheidsvorms ondersteun die swart ekonomiese bemagtigingsbeleid en die implementering daarvan. 'n Stelsel van gelyke indiensneming is in plek wat die ekonomiese opheffing van voorheen benadeelde individue moontlik maak. Die dienste van 'n onafhanklike arbeidskonsultant word vir arbeidsaangeleenthede benut soos benodig.
SOSIALE VERANTWOORDELIKHEID
Indiensopleiding vind op 'n voortgesette basis plaas en dien 'n tweeledige doel: om aan die snel veranderde tegnologiese ontwikkeling in die drukkersbedryf te voldoen; en om 'n gerekende bydrae tot die sosiale opheffing van alle Suid-Afrikaners te maak. Hierdie verbintenis tot die gemeenskap word gerugsteun deur 'n stelsel van leerling- en mentorskap wat onderskeidelik voorsiening maak vir beurse aan werknemers vir formele tersiêre opleiding, en formele indiensopleiding deur eksterne kundiges/interne afdelingshoofde. Borgskappe word ook op 'n merietebasis toegeken na voorlegging en goedkeuring in ooreenstemming met die begrotingsvoorsiening.
kopiereg©2005